28.8.11

Lafenis

My vrou het die lafenis
van 'n Sabbatsrus.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

24.8.11

Met olie en kaneel

Met olie en kaneel wil ek jou warm vryf
totdat jou lyf goud ge-alchemis is
totdat jou sagte plekke vlam vat
jy gloei soos wierook
jou binne-in loem
soos towergoed
totdat jy bruis soos die see
as die oggendson daaruit borrel
en die stratosfeer in laviteer.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.8.11

My mooi vrou,

'n Beeldhouer—'n Michaelangelo of Rodin—
moet jou gedaante in klei uitknie,
jou afdruk in koper giet, jou vorme in marmer ets,
sodat ons kinders en kindskinders en agteragterkleinkinders
jou plek in tyd-en-ruimte kan bewonder en sê:
“Ek stam uit daardie godin!”

Iemand moet jou skilder. 'n Klimt of Botticelli—'n man
wat mooi vroue lief het—moet jou skilder.
Geen kitsdigitale foto, g'n pseudo-iris sal deug nie.
Die kunstenaar moet sy das afhaal as hy jou sien
en my beny met sy jaloerse stywe kwas vol warm rooi verf.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.8.11

Ek droom van Potchefstroom

In my droom stap ek terug,
terug Potchefstroom toe:
oor brûe waaronder moddervuil trolle
(eensaam en hartseer) knorrig sit,
oor spruite waarbinne mitiese waterslange
(mislik van verlange) vir kinders lê en wag,
oor koringlande waar voëlverskrikkers
(vernederd en leeg) gekruisig hang,
oor plase met rumatiek-ou windpompe,
oor agterlike agterplase in snakwarm agterbuurte,
oor allerande verdrietige plekke stap ek:
in my droom stap ek Potchefstroom toe,
want in 'n tyd toe drome nog vrolike gedoentes was,
het ons sprokievrolike drome in Potchestroom gedroom.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.7.11

Ou Liefde

My hart is verkrompte oumanshande
wat jou verrimpelde ouvrouhande vashou.
Ons hande klop.

11.7.11

Die lem van liefde

Skerpsinnig is die lem van liefde:
sny soos glas—óf lig—deur been-en-murg.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.7.11

Toe jy verwagtend was

Ek wens ek was daar
toe jou maag volmaan rond
en vol lewe -- nuwe bloedjonklewe -- was
en jou borsies sappige geswolle
melkvrugte -- vrugte van die Boom van die Lewe -- was
en jou heupe oorlopens toe vol lewe was
en jy soos 'n amoeba te veel lewe gehad het
en twee lewens -- jy en 'n splinternuwe jy -- geword het.

Ek wens ek was daar
en dat ek daar saam met jou -- albei van jou -- gelewe het.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

7.7.11

Gewo(o)n(t)e Liefde

Ons hou plomp mekaar
se lawwe vleise vas –
ons papgesitte boude
jou ongestutte borste
my lamsakkige balsak
en hangpeulpiel.

Ek staan jou by –
be-dek skaamteloos
jou skaamte
tot ons lywe bloos
en ons harte broos is.

Ons hou mekaar vas,
omdat ons pitte
in mekaar se velle
soos litte pas.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.7.11

Rampokkers

Ek en my (n)ooipokker
vrees nie die liefde nie:
ons pak die gulle bul
en mooie koei
by die horingste horing
en spulste speelste speen.
Ek en my karnallie-sy
weet van lekker kry.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.6.11

Gedagtes omtrent "Ek het jou lief" en "Ek is lief vir jou."

Daar is twee hoofuitdrukkings in Afrikaans om jou liefde teenoor 'n ander mee te deel: “Ek het jou lief” en “Ek is lief vir jou.” Alhoewel die twee uitdrukkings tipies as eenders in betekenis beskou word, is daar tog semantiese verskille wat lei tot eiesoortige betekenis.

Daar is twee punte van belang rakende die uitdrukking “Ek het jou lief.” Ten eerste word die liefdesdaad as 'n besitting beskou. Dit is iets wat ek het. Die tweede en moontlik belangriker punt is dat hierdie uitdrukking kontekstueel is. Dit wat ek het, het ek binne 'n bepaalde tyd en ruimte. Deur na soortgelyke uitdrukkings te kyk, kan ons die kontekstuele aard daarvan beter besin. “Gister het die kinders pret in die speelparkie gehad.” Dit wat die kinders gehad het, naamlik “pret,” het hulle gister (tyd) in die speelparkie (ruimte) gehad. Ons sien dat die uitdrukking slegs binne 'n bepaalde tyd en ruimte van toepassing was. “Ek het honger,” is soortgelyk voorwaardelik. Dit wat ek het (“honger”), het ek slegs vir 'n bepaalde tydperk. Sodra ek geëet het, het ek nie meer honger nie. Die kinders se pret het slegs gister geduur terwyl hulle in die parkie was. Dit wat ek het, is dus nie ewigdurend nie. “Ek het jou lief” is nie kategories dieselfde as “Ek het groen oë” nie. Die rede daarvoor is dat liefde 'n gevoel is. Met “gevoel” bedoel ek nie 'n emosie nie, maar eerder 'n sensasie, soos dors, honger, kopseer, pret, 'n orgasme. Weens die vlietende, tog intense, aard van gevoelens pas “Ek het jou lief” meer by jongverliefdes, of in daardie spesifieke situasies waar die gevoel van liefde pertinent sterk, byna fisies, gevoel word. “Ek het jou lief” kommunikeer 'n intensie gevoel in die hier-en-nou, maar dit dra ook 'n besitlikheid oor weens die woordorde: “Ek het jou . . .” kommunikaar indirek “Ek besit jou.”

“Ek is lief vir jou” kommunikeer as te ware twee dinge gelyktydig, waarvan die eerste eksistensiëel van aard is. Daar is 'n versoeking om te dink dat “Ek is lief vir jou” die Afrikaanse ekwivalent van die Engelse “I love you” is, maar dit is 'n verkeerde aanname. 'n Direkte vertaling van “Ek is lief vir jou” heet “I am love for you.” Die vreemdheid van hierdie uitdrukking in Engels stel ons in staat om duideliker die eksistensiële aard raak te sien: “I am love . . .” / “Ek is lief[de] . . .” Die subjek en objek word gelykgestel: X = Y; “ek” = “liefde.” Ek sê “Ek is honger” of “Ek is moeg” wanneer die gevoel sodanig tot my bewuste getree het, dat ek dit kwalik kan ignoreer. Wanneer ek dae laas geëet het, of dae laas geslaap het, raak my hongerte of my moegheid verterend. Dit is al waaraan ek kan dink, tot so 'n mate dat “ek” = “honger” of “ek” = “moeg.” Dieselfde gebeur met liefde, veral tydens verliefdheid:  “ek” = “lief[de]”;  “Ek is lief[de] . . . ” Die tweede boodskap wat gekommunikeer word is dat die “liefde is vir jou.” Gewoonlik wanneer ons hierdie grammatiesevorm gebruik is dit nie gerig aan 'n persoon nie: “Ek is laat,” “Ek is eensaam,” “Ek is Afrikaanssprekend” en so aan. Hierdie is die basiese subjek-werkwoord-objek sinskonstruksie. In die uitdrukking “Ek is lief vir jou” vind 'n interesante vervaging in die subjek en werkwoord plaas. Ek-is-lief word 'n sinsnede wat deur iets anders gerig word—die sinsnede kort 'n objek (direk of indirek) om volledig te wees: “Ek is lus vir sjokelade” (direk) of “Ek is honger [vir kos]” (indirek). Sonder die objek is die uitdrukking onvolledig. “Ek is lief . . .” kort 'n “vir jou” om daaraan sin te gee; met ander woorde, my liefde kort jou, want my liefde is gerig aan jou, sonder jou maak my liefde nie sin nie; en omdat ek lief[de] is wat tot jou gerig is, maak ek ook nie sin sonder jou nie, net soos wat “Ek is honger” nie sin maak indien kos nie bestaan nie. “Ek is honger” maak slegs sin omdat daar kos is wat my hongerte kan versadig; “Ek is lus vir sjokelade” is slegs sinvol omdat daar iets soos sjokelade bestaan—'n toffieappel gaan nie my lus om sjokelade versadig nie. “Ek is lief vir jou” is slegs logies omdat daar 'n “jou” is wat my liefde kan ontvang.

Dit is interesant dat ons in Afrikaans nie die eenvoudige subjek-werkwoord-objek sinskonstruksie gebruik soos in die Engelse “I love you” om ons liefde tot 'n ander uit te druk nie. Ons verstaan die uitdrukking “Ek haat jou” tog goedgenoeg, maar “Ek lief jou” lê ongemaklik op die tong en staan kru op die bladsy. In plaas daarvan dat “lief” ons saamvoeg, skei dit ons van mekaar. Ek staan aan hierdiekant; jy staan aan daardiekant; en in die middel staan die liefde soos 'n hindernis—gepas vir haat, maar ongepas vir liefde.

Met “Ek het jou lief” is liefde in ons besit; 'n intense gevoel in die hier-en-nou. Met “Ek is lief vir jou” verander ek in liefde en vind my vervulling in jou.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence