17.1.13

Navorsingsmetodiek


Hipoteses is verwoord
Data is ingesamel
Statistieke is opgestel
Gevolgtrekkings is getrek
Teenargumente is vals getoon
Die navorsers is dit eens:
Ek het jou lief.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.1.13

'n Geskenkie


in 'n blou kristalflessie
—blou soos 'n sneeu-uiliris—
het ek, met een vinnige nies,
my gees verpak, die bekkie
eers met my duim toegedruk
en toe met die silwerproppie
—versier met silwerblaartjies
en silwerbessies—verseël

'n gees, soos 'n geitjie, sterf maklik
so hou dit warm teen jou bors

maar op jou sterfbed les jou dors
en leef nóg 'n leeftyd onverganglik



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.1.13

Skande op die strand


die see lig haar Viktoriaanse frok
in rolle en valle om haar bleek enkels op
en kom dans gallop-gallop op ons stoep

vir 'n Viktoriaanse meisie gedra sy haarself
skaamteloos met al die gedans en beenwys
ma is g'n beïndruk dat ons alweer

ons handdoeke moet skuif nie
maar ek en pa en boeta geniet die uitsig
en wolffluit vir die branders


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.12.12

Onthou U Here?

Onthou U Here, daardie aand toe ek kom smeek het?
Dit moes 'n wintersaand gewees het,
want die benoudheid van my klaaglied
het soos 'n natgereënde jas koud om my geklou.

Onthou U Here, hoe ek onbaatsugtig, soos Christus u Seun,
nie om my eie welstand gepleit het nie?
maar vir die van mý seun—totdat my hart bloed gesweet het
en ek die voete van die olyfbome met my trane gevoed het.

Onthou U Here, hoe ek my vertroue soos 'n diertjie
in die linne van geloof na u altaar gebring het?
Hoe ek gesnik het, Here, “spaar tog my kind van díe verdriet,
want U is God en U is Goed, laat u goeie wil geskiet!”

Is dit Here, omdat ons nie u Seun gespaar het nie
dat ons seuns ook nie die noodlot vry spring nie?
Here, is U toe al die tyd moedswillig soos 'n kind,
daarom dat U my kind deur wolwe laat verslind?

Onthou U Here, daardie aand toe ek kom smeek het?
Was my pleidooie dan gekaap óf misplaas óf verskeer?
Hoe anders moet ek dan u stilswye interpreteer?
Is dit Here, omdat ons nie u Seun gespaar het nie?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.12.12

As jy net 'n droom is

As jy net 'n droom is, vertel my gou
sodat ek nie my hart verloor aan jou
nie; en as jy net 'n spook is, sê dan wha!
dat ek om genade van Bo kan vra;
en as jy miskien 'n visioen is, laat my weet,
sodat ek kan gaan soek na 'n profeet;
maar as jy eg is, kom soen my dadelik,
want hierdie onsekerheid is ondraelik.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

30.11.12

engines

fire and water copulates       momentum
a women heaving in labour       puffs of steam
a caravan of steel cross land       state       country       continent

horse power kicks       the driver back in his seat
worlds pass in ribbons       lives flash before eyes
the F-1 grinds       the cosmos into fumes of noise

it's arms swirls       meditatively like a Sufi
until it breaks all ties with this world       chopping space-time asunder
the helicopter is enlightened       therefore it levitates

a cat chasing       electric mice
a hawk swooping       binary quail
it catches bytes       imprison them behind liquid crystal veils




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.11.12

Winter


alles skitter
op klip en klei
teer en plavei
selfs gras is glas
die wêreld is kraakvars
die ganse heelal
is kristal



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.11.12

niks is vanselfsprekend nie


heelnag bly ek wakker en wag
ek wag vir die dag soos 'n uil vir 'n muis

ek wag vir die horison om haar wye dye
nes 'n tydskrif op die middelblad oop te val:
geboorte te gee aan 'n blinknuwe son
                (want elke dag verdien 'n nuwe een)
waarvan die nánag nog aan sy naelstring klou
soos 'n kleuter wat vashou aan 'n balon se tou

die heelnag bly ek wakker om dit te sien

want niks is vanselfsprekend nie

nie jy nie

nie eens die son nie



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.10.12

as ek kon


'n Vertaling uit Engels van my gedig "A Love Proposal"


as ek
my hart soos 'n perske kon oes
dit uit my bors kon pluk
uit die hok kon steel
die aorta af kon bind soos 'n naelstring
dit kon afwas en toedraai in linne
dit met bies kon versterk teen die koue
en dit kon neerlê in 'n mandjie
versier met 'n groot strik—groot soos 'n hand;

as ek
dit voor jou deur kon los
dit vir jou soos 'n ring aan jou vinger kon gee
óf soos die lewensasem Adam ingeblaas
óf soos lente—opgekrul in die palm van God se hand
nes 'n baba krimpvarkie;

en as jy
dit sou aanvaar, dit sou inasem,
dit sou inneem soos soet perskes,
medepligtige sou wees aan die gevangenisontsnapping,
as jy jou bors sou bied vir bies en liefde,
jou borskas sou deel met 'n ekstra hart—om passievol
jou bloed te pomp;

as ek kon,
en as jy sou,
behoort my hart aan jou.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.10.12

Tronkvoël se wraak

Met verwysings na William Blake se "How sweet I roam'd from field to field" en Maya Angelou se "I Know Why the Caged Bird Sings".



jy verf jou mure hemelblou
en vang my met 'n net
jy tronk my in 'n voël se kou
en hang my bo jou bed

deur die tralies steek jy stokkies
jy skeer met my die gek
hoeveel ander is in hokkies
versteek in jou woonplek?

jy voer my kamma-liefdetjies
winkoog en blaas soene
'n man soek meer as krummeltjies
leegdop visioene

'n gehokte voël kan óók fluit
'n klaaglied is óók mooi
'n tronkvoël sing oor vryheid
en oor predator en prooi

eendag is eendag en ek is vry
ek weet tog waar jy bly
ek gaan jou aan die keel beet kry
jou koue hart uit sny



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence