26.5.13

weersiens

jy draai jou rug op my soos die verlede
en ek, ek gooi my arms om jou bene

          ne me quitte pas, ne me quitte pas
                    ne me quitte pas, ne me quitte pas!

in jou koffer weg gepak, lê die offer
van my hart en die storieboek
wat vertel van die versoeking en die val
van die sondebok en die beloofde land
van slegvroue en van slegter mans
van verraaiers, van 'n tweede kans


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.3.13

Harteloos


Dit is wel bekend onder liefdeskenners
dat die kennis van liefde die broeikas
van die hart vereis; die wetenskap
van die liefde, soos die navorsers weet,
vereis die laboratorium van die hart;
dis in die akademie van die hart
waar die filosowe die liefde bepeins;
almal weet dit tog, almal is dit eens!

Hoe kan ek dan van die liefde leer,
noudat jy my hart gesteel het?



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.3.13

Lentetyd


Liefling, dis lentetyd:
laat my aan jou lentebloeisels ruik,
aan jou blommeknoppies knibbel;
kom, nou is immers die geleentyd
om in pas met die seisoen te wees,
laat ons soen, versoen en gelukkig wees!




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Drukkies & Soentjies

sê die pedofiel:
ek't hom 'n guns gedoen
ek't haar bederf
ek't hom op sy tottie gesoen
ek't haar bekkie geverf

sê die grootmenskind:
hy't my opgeneuk
sy lus oor my getrok
my met sy mes gesteuk
my lewe opgefok



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.2.13

Magnolia

Binnekort gaan die magnoliaknoppe
hulle sluiers soos Oosterse bruide oopgooi
en soos die volmaan maagdelikwit
hulself ontbloot;

—laat elke bruidegom wat 'n oog het sien;
laat elke beminde wat 'n neus het ruik;
laat elke minnaar wat 'n mond het proe—

binnekort is dit magnolia-tyd.




Soon the magnolia buds will
throw their veils to the wind like Oriental brides
and expose themselves
like the full moon, virgin white;
—every bridegroom that has an ear, let him hear;
every beloved that has a nose, let him smell;
every lover that has a mouth, let him taste—
it will be magnolia season soon.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.2.13

the poet and his cat
   draped over his shoulder like a river
in the autumn sun sat
waiting for the current of inspiration

and it came
falling like leaves
that the poet saw, but didn't see

the cat concurred
and purred

10.2.13

Vakmanskap / Craftmanship


Vakmanskap

My geliefde vriend,

Ek wil so graag vir jou 'n gedig beeldhou,
maar die klei gly my vingers ongevorm verby,
die beitel skram etsloos teen die marmer wang.

Ek weet goed hoe om 'n vrou se vorm te vou—
my kunstenaarsoog is wel bekend met haar gekruinde lyne,
my skrywerstong ken haar valleie en haar duine.

Maar jy, my vriend, los my woordeloos.
Wie gaan my hierdie vakmanskap leer?
Hoe skryf ek die liefde van 'n mansvriend neer?


Craftsmanship 
My beloved friend,
I so want to sculpt you a poem,
but the clay slips pass my fingers unimpressed,
the chisel ricochets etchless from the marble's cheek.  
I know well how to fold a woman's form—
my artist's eye is well informed with her curved lines,
my writer's tongue knows her dunes and ravines. 
But you, my friend, leaves me speechless.
Who will teach me this craftsmanship?
How do I scribe the love of male companionship?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.1.13

Navorsingsmetodiek


Hipoteses is verwoord
Data is ingesamel
Statistieke is opgestel
Gevolgtrekkings is getrek
Teenargumente is vals getoon
Die navorsers is dit eens:
Ek het jou lief.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.1.13

'n Geskenkie


in 'n blou kristalflessie
—blou soos 'n sneeu-uiliris—
het ek, met een vinnige nies,
my gees verpak, die bekkie
eers met my duim toegedruk
en toe met die silwerproppie
—versier met silwerblaartjies
en silwerbessies—verseël

'n gees, soos 'n geitjie, sterf maklik
so hou dit warm teen jou bors

maar op jou sterfbed les jou dors
en leef nóg 'n leeftyd onverganglik



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.1.13

Skande op die strand


die see lig haar Viktoriaanse frok
in rolle en valle om haar bleek enkels op
en kom dans gallop-gallop op ons stoep

vir 'n Viktoriaanse meisie gedra sy haarself
skaamteloos met al die gedans en beenwys
ma is g'n beïndruk dat ons alweer

ons handdoeke moet skuif nie
maar ek en pa en boeta geniet die uitsig
en wolffluit vir die branders


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence