23.6.13

só mooi

jy is vir my baie mooi
mooi soos geboorte
soos die geboorte
van slymvars verimpelde mensies
wat soos paddavissies hul naelstringe
soos stertjies afgooi—nat agter hulle voetoortjies
en nat onder hul oorvoetjies—vreeslik
mooi is jy soos die dood van 'n verimpelde
oumensie wat 'n vol lewe vol verdrukkende
hartseer en slymvarsgeluk—bietjies-bietjies
gewis soos brood en water—gehad het
en met 'n diep sug      die gees gee      en rus—
só, so mooi is jy vir my.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.6.13

Storm

hoog,
hoog bo die werwels
van kruin en van krans
stamp hulle kop:
die bulkende takbokke—roetgrys
en op hitte; hulle muskus stoom
in ons neusholtes, kondenseer
op ons hygende tonge, drup
met ons kaal lywe af soos sweet,
soos seks—ploeg met hulle silwer
horings en hulle drygende hoewe
klonte roes grond uit die aarde op;
hulle duik soos branders en die hemel
hou sekondes lank haar asem op—
en dan, die botsing:
die wollerige ramme, asof oorlogskepe,
pletter teen mekaar.      alles.      skud.
die ganse aarde bewe.      hulle pronkende
lywe sidder en vanaf elke regop haar drup
'n stinksoet druppel—skrikwekkend
besield soos testosteroon, spermatozoonverkwik
met lewensvonk—die vrugbare aarde drink,
en word dronk.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.6.13

Die pyn van liefde

'n Vryvertaling van 'n ou anonieme Kwakwaka'wakw gedig. 


Vuur stormloop deur my lyf met die pyn wat dit is om jou lief te hê;
pyn stormloop deur my lyf met die vuur van my liefde vir jou;
siekte loop sirkels in my lyf met my liefde vir jou;
pyn soos 'n blaas wat wil oopbars met my liefde vir jou—

Ek onthou steeds wat jy vir my gesê het.
Ek dink aan jou liefde vir my.
Ek word verskeur deur jou liefde vir my.

Waar gaan jy heen my geliefde?
Ek hoor jy gaan weg hiervandaan.
Ek hoor jy gaan my hier agter laat.

My lyf is verlam van verdriet.
Onthou wat ek vir jou gesê het, my lief.
Tot weersiens, my lief, totsiens—


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

26.5.13

weersiens

jy draai jou rug op my soos die verlede
en ek, ek gooi my arms om jou bene

          ne me quitte pas, ne me quitte pas
                    ne me quitte pas, ne me quitte pas!

in jou koffer weg gepak, lê die offer
van my hart en die storieboek
wat vertel van die versoeking en die val
van die sondebok en die beloofde land
van slegvroue en van slegter mans
van verraaiers, van 'n tweede kans


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.3.13

Harteloos


Dit is wel bekend onder liefdeskenners
dat die kennis van liefde die broeikas
van die hart vereis; die wetenskap
van die liefde, soos die navorsers weet,
vereis die laboratorium van die hart;
dis in die akademie van die hart
waar die filosowe die liefde bepeins;
almal weet dit tog, almal is dit eens!

Hoe kan ek dan van die liefde leer,
noudat jy my hart gesteel het?



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.3.13

Lentetyd


Liefling, dis lentetyd:
laat my aan jou lentebloeisels ruik,
aan jou blommeknoppies knibbel;
kom, nou is immers die geleentyd
om in pas met die seisoen te wees,
laat ons soen, versoen en gelukkig wees!




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Drukkies & Soentjies

sê die pedofiel:
ek't hom 'n guns gedoen
ek't haar bederf
ek't hom op sy tottie gesoen
ek't haar bekkie geverf

sê die grootmenskind:
hy't my opgeneuk
sy lus oor my getrok
my met sy mes gesteuk
my lewe opgefok



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.2.13

Magnolia

Binnekort gaan die magnoliaknoppe
hulle sluiers soos Oosterse bruide oopgooi
en soos die volmaan maagdelikwit
hulself ontbloot;

—laat elke bruidegom wat 'n oog het sien;
laat elke beminde wat 'n neus het ruik;
laat elke minnaar wat 'n mond het proe—

binnekort is dit magnolia-tyd.




Soon the magnolia buds will
throw their veils to the wind like Oriental brides
and expose themselves
like the full moon, virgin white;
—every bridegroom that has an ear, let him hear;
every beloved that has a nose, let him smell;
every lover that has a mouth, let him taste—
it will be magnolia season soon.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.2.13

the poet and his cat
   draped over his shoulder like a river
in the autumn sun sat
waiting for the current of inspiration

and it came
falling like leaves
that the poet saw, but didn't see

the cat concurred
and purred

10.2.13

Vakmanskap / Craftmanship


Vakmanskap

My geliefde vriend,

Ek wil so graag vir jou 'n gedig beeldhou,
maar die klei gly my vingers ongevorm verby,
die beitel skram etsloos teen die marmer wang.

Ek weet goed hoe om 'n vrou se vorm te vou—
my kunstenaarsoog is wel bekend met haar gekruinde lyne,
my skrywerstong ken haar valleie en haar duine.

Maar jy, my vriend, los my woordeloos.
Wie gaan my hierdie vakmanskap leer?
Hoe skryf ek die liefde van 'n mansvriend neer?


Craftsmanship 
My beloved friend,
I so want to sculpt you a poem,
but the clay slips pass my fingers unimpressed,
the chisel ricochets etchless from the marble's cheek.  
I know well how to fold a woman's form—
my artist's eye is well informed with her curved lines,
my writer's tongue knows her dunes and ravines. 
But you, my friend, leaves me speechless.
Who will teach me this craftsmanship?
How do I scribe the love of male companionship?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence