27.2.14

The Universe Spins -- my studente se gedigte



Verlede semester het ek 'n skryfkunsklas aangebied. As deel van hulle finale punt moes my studente 'n skryfportefeulje inhandig met twee kortverhale en vyf gedigte. Uit hierdie gedigte het ek die bestes gekies en tydens my onlangse vakansie geredigeer tot 'n digbundel. Die digbundel is uiteindelik vandag gepubliseer as 'n e-boek. Jy kan The Universe Spins gratis aflaai by Smashwords.Com in 'n formaat van jou keuse.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

23.2.14

Herhalingsmisdadiger

2005/2006


’n herhalingsmisdadiger: vang jy my uit
as my oë die jardste keer jou clevage lek
en ek doofstomdomdwaasgek opkyk

stotterend verklaar ek; gee ek toe; gee ek mee–
ek’s skuldig
skuldig soos die see

ewe halsoorkopbommelakisiekopstampdolverlief
verlief soos bronstige branders vir rotse
só is ek verlief op jou      en op jou borste.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

19.2.14

groenweivelde

2005/2006


In die trippel van jou lippe
wat soos wolklammers
oor die blou-oog van die hemel drawwe,
les my lentestogte, my drommende driwwe,
my liestelike gierigheid.

In jou lieflike loulyf
lafenis my bronstigheid–
vind ek rus in die groen
weibemindlikheid
van jou kruine en dale.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.2.14

Ongetiteld

2005/2006


ín jou vuurmaakplek
wryf ek my stokkie tot jou warmmaakblokkie
senuweekooltjies spat

ons blaas
ons blaas tot die vonkies vlamvat
stook die kaggel hoog
met drifhout en met drang

totdat jy die brandklok lui

en ek met brandweerslang
                     die vure blus
      jou wellusblom nat lei

gewis: bó ons vuurmaakplek is die liefde nie



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.2.14

Drumpel

2006/2007


Jou lyf, plek-plek sag,
plek-plek styf,
is uitgestal.

Ek lek-lek jou lekkertes
tot jy huigend
oor die drumpel val.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.2.14

Weer

Tussen 'n menigde merk ek
hoe ek gemerk is,
uitverkies is tussen mans en vrouens
en broers en susters en kinders,
tussen vriend en vyand,
tussen bekendes en vreemdes;
hoe jy my herken, úítken
asof ons mekaar in vorige lewens
menigmaal geken het.

En sou ek in sulke dinge glo,
dan stem ek in: kom ons verken mekaar,
kom ons reïnkarneer en ontdek mekaar
van vooraf weer en bemin mekaar nog 'n keer:
een lewe om mekaar in lief te hê,
my geliefde, is vééls te min—



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.1.14

Honger

2006/2007


Ek honger: vir jou vat
aan die brug van my heupe,
en vir jou asem wat in repe
teen my vleis kom klad,
wanneer ons kopuleer;
: vir jou stuip      my beur,
: vir jou sinkroniseer
onder palms
wat wind oor halms
golf en spat      golf en spat.
Ek't honger,
Ek't hongersnood honger vir jou.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

30.1.14

Bamboesbos

2006/2007


laat ons ontmoet in die bamboesbos
waar die smaragte langbeen elkaar ritsel
soos skoffelende vingers op ’n lier,
soos vere en vlerke en papierwaaiers
                                                            laat ons ontmoet

laat ons ontmoet in die groen soenbos
die bamboeswagte hou kywie
gewaar hoe hulle erektiele waghou-spiese
ons bewaar, die liefde binne, die haat buite,
                                                            laat ons ontmoet

laat ons ontmoet in die firiele bos
van olyfgroen stutte en lemmetjie-groen latye
wat katedraal oor ons bamboeslywe
styfglad en kaalgespan soos reiers staan
                                                            laat ons ontmoet



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.1.14

Migrasie

[Nou nie juis een van my beste pogings nie, maar soms moet 'n mens die rowwe sketse ook die dag laat sien.]


Met vakansietyd word die buitelander ooievaar,
migreer kortstondig terug na sy uitbroeiland;
maar landshervorming het sy geboorte-nes,
en geboortebloekom om gebulder—
net vir ingeval pik hy deur die koerante,
maar swartekonomiesebemagtiging
sê ooievaars is te wit, is europeers;
vir oulaas kyk die witvoël rond
vir 'n hen (of haan),
maar hy was te lank uitlandig;
almal is reeds ge-nes en gepaar
of nou geskei met kuikens
en bagasie te swaar vir die rit na die vreemdeland,
en so vlieg die haan alleenig terug
na die verreland,
sonder hen of kraai of remembrand.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

23.12.13

Eendag is eendag / One day for sure

Eendag is eendag

Eendag gaan ek jou nog afskud
soos 'n perd sy inbreker
of soos bloed van hande,
of soos 'n verantwoordelikheid,
of 'n ou tradisie, 'n superstisie,
of watter ander derglike dekselse ding
waarvan 'n mens jouself van kan afstroop,
jouself van kan afwas, van kan detoks,
kan opkots, uitkots, wegtos.
Eendag gaan ek dit nog regkry
om myself los te skud van jou,
myself los te wringel uit die doringbos,
myself—en my hart—te bevry.

Eendag is eendag. Maar nie vandag nie.



One day for sure
One day I will yet shake you off
like a horse it's trainer
or like blood from hands
or like a responsibility
or an old tradition, a superstition
or whatever other such damned thing
one can strip oneself off of, 
one can wash oneself clean of, one can detox of,
one can vomit up, puke out, toss away.
One day I will yet succeed
in shaking myself loose of you,
in wriggling myself free from the bramble bush,
in freeing myself—and my heart—from you.
One day for sure. But not today.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence