25.4.16

Wat nag is

Die dag toe jy dood is 
slaan my hart 
die sonsondergang
'n bloukol. 
Ek verstaan nou
wat nag is. 


Al daai stories oor die aarde 
wat draai is bog. 
Dit is derduisende treurendes se harte 
wat met gebalde bitter vuiste 
dag na dag die hemel swart slaan— 
dít is wat nag is.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

24.2.16

Tongspunt

Hierdie ding wat ons doen—
wat sal ons dit noem?

Hierdie gepeuter met mekaar
se gekneusde harte, hierdie onverskillige
gevroetel met mekaar se breekware, astrand
kleuters in 'n kristalwinkel—
kyk hoe hardloop ons harte
sonder toom of ruiter
deur die landskap van ons
oorvleulde lewens,
vertrap die landerye,
skop stof op, keer tafels om,
vase val, en mors van speserye—

Wat word dit genoem?



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.11.15

Die rooi kruiwa

’n Vryvertaling van William Carlos Williams se "The Red Wheelbarrow" -- ’n voorbeeld van die Imagisme-skool. 



soveel hang af
van

’n rooi krui-
wa

verglans met reën-
water

langs wit
hoenders.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.10.15

Annunsiasie

O gedorie! o genade! o die dinge hier te sien!
O my goeiste! o my aarde! watse lot is hier bedien?!

Katastrofe, kataklisme, katakombe, katpardel!
Kan jy sulke dinge indink? Kan jy dít tog oorvertel?!

O die wêreld lê aan skerwe, o die heelal roep-en-gil!
O die sondes oorgeërwe, o die gode tjoep-en-stil.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.8.15

Reën

Hoor hoe die reën val

soos gebreekte harte op marmer vloere,
op stoepe en voorportale,
in restaurante, kombuise,
slaapkamers, badkamers, TV-kamers,
stadspleine, straathoeke,
in verre lande, en sommer hier
vlak neffens ons lê die stukke
fyn en flenters.

Sien die fragiel momente,
dié fragmente
wat ons liefde noem,
wat sommer só met 'n brief of SMS
of kortafwoord of kilkyk
frommel, kraak, krummel
en moed opgee.

Harte wat eens op 'n tyd
geklem het soos buldende vuiste:
nou vuisvoos en lam lê die verspilde organe
op vloere, op dakke, in agterplase,
onder brûe, in velde, trogge en slote,
op vullishope, in stegies, in plasse.

Voel hoe reën dit.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.6.15

My Beautiful Wife

A translation of my Afrikaans poem "My mooi vrou".


A sculptor—a Michelangelo or Rodin—
must knead your shape from clay,
cast your impression in copper,
etch your forms into marble,
so that our children
and children's children
and great grandchildren
may admire your place in time-and-space and say:
“I'm begotten from that goddess!”

Someone should paint you. A Klimt or Botticelli—a man
that loves beautiful women—should paint you.
No instant digital photo, no pseudo-iris will do.
The artist must remove his tie when he sees you
and envy me with his stiff brush dripping warm red paint.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.6.15

Kwantumhoop

dalk op 'n kwantumfisiese plek
bly 'n ander jy
en 'n ander ek
in 'n parallelle universum
ad infinitum



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.3.15

'n Digter se waarskuwing

nie elke blom is 'n gedig nie,
nie elke wolk 'n perd of draak nie,
nie elke sonsondergang of volmaan
'n okkasie vir romanse nie.

soms is 'n roos 'n roos 'n roos
en 'n wolk bloot 'n swerm watermolekules
tydelik bevry van gravitasie se slawerny,
en sak die son beangs sy graf binne,
en klim die maan skarlaken haar kadel uit
en staar bloeddorstig uit oor al die donkerdade
wat slegs snags onder haar grootoog nagwag gebeur.

nie elke soen bemin nie,
nie elke “ek het jou lief”
weeg dieselfde op 'n hartskaal nie,
nie alle seks indring nie,
nie alle waarheid word met 'n liniaal bepaal nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.3.15

Strek

Soos 'n vel wil ek uitstrek, soos 'n veld ooprol
en die son soos liefde indrink—my hart oopvlek
nes palms na gebed om die seën te vang.

Ek wil my self strek, die senuwees rek,
die morele sinapse soos 'n lier
sakrosant stem en plegtig stram.

My talente wil ek strek van horison tot aardsrand,
my verbeelding soos die konstelasies
in ses pare in span, 'n koets op die melkweg.

Laat ek myself strek: my vrese raakvat
en inperk, met geoefende soepel spiere
en 'n vasberade kyk vasvat en uitwerp

die duisternis in. Ek vrees nie die donker nie.
My siel lê uitgestrek en spin tussen die sterre
soos 'n swart kat wat diep die donker in kan sien.

Mag ek myself oopstrek soos 'n gekruisigde
wat in innige pyn empatiek almal wat gepynig
is omhels met wyd gestrekte oop omarmde arms.

God, strek my soos 'n gordel en omgord my
soos 'n profeet en maak my kinderlik nuttig
vir die liefdestaak van menswees.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.2.15

Wasem

Nadat die verliefdgeid
soos dwelmgoed uitgewerk is,
en net ek—die gewone ek
met sproete en moesies,
'n magie en dubbelken,
bril en oggendasem—oorbly,
nadat die verliefdheidswasem
opgeklaar het voor die waarheidson,
en jy my—die regte ek—sien
met nugteroë, gaan jy dan,
my beminde, my steeds só bemin,
soos nóú, asof ek perfek is?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence