26.12.11

Ek het gedroom

ons is twee duifeiertjies
in ’n nessie, in ’n tak, in ’n boom



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

25.12.11

Ons lê mekaar ingelê

Ons lê mekaar ingelê
soos halwe perskes
in mekaar se stroop
ingedoop.

Ons blomme bestuif
mekaar se sawwe trogge
met los tonge.

Ons eet en ruik
en ruil ons asems uit.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.12.11

Raad 1

My kind,
jy ruik vars:

vars soos ’n pasgebore brood
soos ’n perskeboom waarop die sterre
laasnag neergedaal en watte geword het
soos bokspring kalwerliefde na die reën
wanneer haasbekkies om die kys vra

terwyl jy nog vars is
gryp hom vas, my kind,
hou die lewe grootvas met jou klein hande
staan wyd en grou jou stomptoontjies
soos bergbokkloutjies teen die krans

wurg hom, my kind,
wurg hom vir alles wat hy het

suig sy murg leeg
tot jy blink om die bek:

spekvet en gelukkig!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.12.11

Met ons samekoms

Nooit weer sal die son verdrink in die see nie;
nooit weer sal die aandster ’n gevaarbaken wees nie.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.12.11

Brood en botter

jou brandwarm borste
is varsgebakte brode
(ek het die deeg self geknie
met keurig gesifde woorde)

my vingers drup in jou nek
my palm smelt op jou heup
my vat olie jou lieste

vanaand is ons kieste vol
tuisgebakte brood
en vars geskudde botter



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.12.11

Net nie 'n liefdesgedig nie

Ek wil so graag ’n gedig skryf, maar ek het geen inspirasie nie. Ek kan altyd oor die liefde skryf – liefdesgedigte gebeur maklik vir my.

Liefdesgedigte is soos bloedgieting. Dit neem nie baie nie. / Die ligste prik en die siel anus oop, en uit ontkiem die liefdesgedig. / Selfs ’n kind, gehok aan ’n tekort aan woorde, / kan met dié bietjie tot haar beskikking ’n liefdesgedig teel / vir haar ma, of haar pa, of haar kys. / Ja, selfs die Rugby-jock, kan vir sy gryp sê: / Ek dig jou soos my tokse!

Om oor die vrou te dig: die lyn van haar lippe te beskryf as hoë wenkbroue; / haar olieklam mond as ’n vaginarooi arbei; / haar tong wat soos ’n hand van my hart ’n troeteldier kan maak – dit kan liefkoos – / te beskryf as ’n lemmetjie wat genadeloos my polse sny; / haar tepels: geniepsige Braille wat roep om gelees te word; / haar gul heupe: ’n vibrerende cello; is maklik om te dig.

Om oor die passie – stellig nee! die wellus – te dig, neem min sweet; / inteendeel dis in die sweet (óns sweet wat aan mekaar plak soos tweespalkwoorde, / byvoorbeeld hart[s]-tog, hart[s]-verlange, hart[e]-dief) / dat die wellustigste gedigte lê en prut.

Dit vat nie veel om oor die liefde te dig nie. Daarom wens ek, ek kan ’n gedig skryf. Ek is bronstig om ’n gedig te skryf. Net nie ’n liefdesgedig nie. Maar buiten die liefde is daar geen inspirasie nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.12.11

Verjaarsdagwense

Díe dag,
vandag,
jou verjaarsdag
het my onverwags betrap

soos die Wederkoms.
Dit was nes in die dae van Noag –
ek het nie gedrink nie,
maar ek het geëet en gedink aan trou.

Soos die Wes-Transvaal se lente –
die takke swel pitswere
skielik (sonder serimonie) bars dit blertse:
semenwit      tepelpienk      skrotumperse

en dan,
die bloeisels
wat soet parfume poep.

En dan nog skieliker,
met ’n snik en ’n snak,
is dit somer.

Só betrap jou verjaarsdag my
en ek kry toe maar blomme
(nie tulpe nie, ek het jou al te veel daarvan gegee):
geel daisies en blou gesiggies en raffialint
en stasioneer dit in ’n fles in my kamer.

En toe bid ek maar vir almal wat vêr is
(maar nie vir jou nie, want gebede aan die dode is kettery).



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence