17.7.12

en ek wonder hoekom / and I wonder why

en ek wonder hoekom

soos om 'n bok af te slag stroop jy gedetermineerd my uit my klere uit,
strooi my hemp en belt en broek en onderbroek en kouse in die wind,
en ek wonder hoekom ek nie terugdeins voor jou jagtersmes nie.

wanneer jy my om die nek vat en met jou erektiele tong die vagina
na my long volstop en ek terugval soos 'n verslaande op 'n slagveld
en myself aan jou oorgee wonder ek hoekom ek nie veg vir asem nie.

ek word wakker met my eiers genes in die bak van jou palm
en ek wonder hoekom ek nie bang is—só met die weegskaal
van my manwees in die greep van jou manlike hande—nie.

ons trek aanjy maak 'n wurgtou van my das, skuif die mambakop tot teen my keel,
vou my kraag plat teen my skof en vee onsigbare stof van my skouers af, 
en ek wonder hoekom ek nie jou bloeddorstige nabyheid vrees nie. 

jy hou my bebloede ontwortelde hart soos 'n vrou se tiet met hard-
handige verkoestering vas en ek wonder hoekom storm ek nie om
dit uit jou selfversekerde greep soos na iets kosbaars te gryp nie.


and I wonder why

like slaughtering a steer you determinedly strip me from my clothes, 
scatter my shirt and belt and pants and underpants and socks to the wind, 
and I wonder why I'm not recoiling from your hunter's knife.

when you take me about the neck and plug with your erectile tongue the vagina

of my lungs and I fall back like a conquered on a battlefield 
and give myself up to you, then I wonder why I'm not fighting for breath.

I arise with my eggs nested in the pot of your palm 

and I wonder why I'm not scared—so, with the balance scales 
of my manliness in the grasp of your manly hands.

we get dressed—you make a noose of my tie, push the mamba head against my throat, 

fold the collar flat against my nape and wipe invisible dust from my shoulders,
and I wonder why I'm not frightened of your bloodthirsty closeness.

you hold my bloodied uprooted heart like a women's tit with hard- 

handed nurturing and I wonder why I'm not storming at you to 
snatch it, like at something valuable, from your confident grip.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

14.7.12

Ek het nie my hart op 'n someraand verloor nie


'n Vryvertaling van A. E. Housman se “I did not lose my heart in summer's even


Ek het nie my hart op 'n someraand verloor
terwyl rose oopbars met die maansopkoms nie:
maar met pluime om die voete en lood in vlug,
in bloed en rook en vlam het ek my hart verloor.

Ek het my hart verloor aan 'n soldaat en vyand,
'n kêrel wat—al het hy probeer—my nie kon dood nie;
wat nog in aanval my sabel reguit ontvang het
en gelag het en sy hand na my gesoen het en gesterf het.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.7.12

Bespeur / Perceive


Gister wou ek myself in jou reuk toedraai—
jou soet warm walms soos 'n kombers
om my vou en myself daarin deurweek soos 'n sjamaan.

Eergister was dit jou stem—ek wou swem
in die helder lettergrepe van jou keel se tromboon
totdat elke sel in my jou klanke weergalm.

Maar vandag wil ek eenvoudig aan jou vat—
my hand op die wand van jou gesig rus
en met my vingers die lyne van jou lippe lus.



Yesterday I wanted to wrap myself in your smell—
fold your sweet odour around me like a blanket
and soak myself in it like a shaman. 
The day before it was your voice—I wanted to swim
in the clear syllables of your throat's trombone
until every cell in me echoed your sounds.
But today I simply want to touch you—
rest my hand on the side of your face
and with my fingers loop the lines of your lips.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.7.12

Die Tafelbergsutras


Laat val jou oë met vergenoegdheid op die blou 
bo die baai, dan sien jy hom—Gautama—ewiggroot
in sy missag mantel sit: kruisbeen en vriendelike
soos 'n boeppens Khoi, kalbas en al, op Tafelberg.

Sien hoe raak sy regterhand met lenige
songeel vingers die berg se bronsbruin wand:
hy roep haar as getuie—Mara se sondige land—
Suid-Afrika is stampvol lyding: selfsug,
onvergenoegdheid, 'n bronstige honger.

Die Boeddha sit hier op ons stoep
en weerskante die kongōrikishi:
hoe gepas díe Duiwel en díe Leeu
om die heilige Siddhārtha op te pas.

“Wat maak hy hier?” en hy verdwyn.
“Hoekom sit hy daar?” en hy is weg.

                    die moordenaar ken hom nie
                    die dief kan hom nie besit nie
                    die hoereerder kan hom nie aanraak nie
                    die leunaar word nie gehoor nie
                    die dronkaard kan nie besin nie

Maar die Boeddha bly barmhartig:
Die agt voetslaanpadjies lei tot by sy
voete wat tussen die fynbos en proteas rus.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.7.12

Jy's soos potpourri in die laaie van my onderbewussyn. Die skraalste steurnis en jou geure walm soet herinneringe in my op. Jy klou aan die klere van my gedagtes en lê klam in my hare. Beweeg ek onverwags, of draai ek my kop te vinnig, dan roep my verbeelding die reuk van ons verlede in vars emosies op, asof die kruie van ons verhouding sopas onder groenvingers gekneus is.

Hoe lank gaan jy nog soos 'n spook in my lewe walm?
Word 'n ou minnaar dan nooit van jou gespeen nie?
Word 'n ou geliefde dan nooit amnesie gegun nie?



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.6.12

Modderkoekies

2006

Eendag wanneer ons oud is
moet ons modderkoekies bak.
Ons skibberige hande sal weer
glibberig wees soos platannas.
Ons gekerfde gesigte sal weer
blos soos kleigeverfde inboorlinge.
Ons grasgryskoppe sal weereens
vrugbare aardes wees,
kleurig vol van kattekwaad
– nee – gemmerkattekalmte.

En as die agterdagson ons speletjies speen
sal ons nie ween nie, maar laaste lag –
’n Oumens is net eenmaal kind,
dóg was dit ons tweekeer goedgesind.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Plaas

2006

die land het bros geword
soos ou broodkors gemuf
lê nou oop     rou     skurf
soos 'n ou boervrou verwurg



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.6.12

soos lou heuning drup jy jou lang lyf
            oor my, giet jy jouself in warm sûe
                                         oor my lyne en my brûe



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.6.12

Belydenis

August 2006

Ek dans met haar. Vat haar styf
om die lyf. Speen aan haar peul-
bors. Hawe haar kors tortuur tong
in my mond. Stort my ongebore
half-kinders in haar kreng brakbuik.
Miopies beskou ek haar vigs
minnenswaardig. Noktambulis
eienaardig is my sinlike wellus
vir haar. Sonde is my houvrou.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.6.12

Die weefster se geliefde


"Die weefster" (met haspel en spil)
deur William-Adolphe Bouguereau,
olie op doek, 1873.


Op haar haspel is my veselagtige hart geplant—
'n ontliggaamde kop op 'n spies:

Sy spin en spin en spin en tol my are skroefdraad
op haar spil tot niks behalwe 'n koper katrol
vol geroeste gare van my hart oorbly nie.

Met weefraam stram gereed weef sy
karmosyn kettingdraad en     sy weef
skarlaken inslagdraad en       weef sy
totdat niks van my oorbly nie,
want sy het my opgeweef en deurgeweef
en ingeweef en weggeweef en klaargeweef—
'n tapisserie vol bloederige patrone:

kýk, dis ek, die weefster se geliefde!



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence