4.8.13

sedert dinsdag

die son kom op
die son gaan onder
die dag is blou
my hart is donker

sedert dinsdag reeds ignoreer jy my
jy bel nie na my huisfoon of my sel nie
jy los geen boodskappe, nie stem of teks nie,
my e-pos se inlaai is vol gemorspos
(alle pos wat nie jou pos is nie is mos)

die son gaan onder
die maan is donker
die son kom op
my hart is blou

die son is op
my hart is rou
die son gaan onder
sonder jou


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.7.13

vir alles is daar 'n prys

daar is maniere om wraak te neem
daar is metodes om die son se verkoolde hart
seer te maak, om hom terug te kry
vir al die kere wat hy onsimpatiek opgekom het
vir al die kere wat hy sonder meegevoel geskyn het
toe jou eie hart gebrand het van verdriet
en hy jou geheime pyne aan die dag gelê het
sonder empatie ontbloot en gekollig het
daar is werkswyses, daar is strategieë,
om selfs die magtige son te laat les op sê
is daar toorwoorde en donkerpraktyke
sodat hy op daardie dag, wanneer hy sy laaste
sametrekking kry, sy laaste lou walm afskud,
aan jou sal dink, en spyt sal wees
dat hy nie saam gehuil het nie
daar is maniere om jou op die son te wreek
om jou hart op sy laaste oomblik oop te breek
om sy sputterende spastiese lont
met jou eie vingers dood te vryf
is daar maniere om dinge gedoen te kry:
jy moet net die regte gode ken
vir alles is daar 'n prys



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.7.13

Aan almal wat die ratte geölie hou / To All Who Keep the Gears Greased

Aan almal wat die ratte geölie hou

Ek het die jagters lief,
die gaarders, die slagters, die verbouers,
die bakkers, die grouers, die bouers,
die wewers, die kinderoppassers, die voeders,
die opvoeders, die versorgers, het ek lief.
Almal wat die ratte geölie hou.
Wat hulle hande vuil kry,
wat sweet, wie se voete brand
na 'n lang dag van swoeg,
wie se rûe pyn soos Atlas s'n.
Kom, kom sit en laat ek jou voete was;
kom, kom dat ek jou skouers vryf,
die sweet van jou voorkop met my mou af vee;
kom, dat ek jou growwe hande in myne hou,
jou op die lippe soen soos 'n kammeraad.
Kom, kom sit hier, kom rus,
kom luister hoe ek jou besing—
ek het jou lief.


To All Who Keep the Gears Greased
I love the hunters,
the gatherers, the butchers, the farmers,
the bakers, the diggers, the builders,
the weavers, the child-rearers, the feeders,
the educators, the caretakers—I love them all:
All who keep the gears greased.
All who get their hands dirty,
who sweat, whose feet burn
after a long day of toil,
whose backs ache like that of Atlas. 
Come, come sit and let me wash your feet;
come, come let me rub your shoulders,
wipe the sweat from your brow with my sleeve,
let me kiss you on the lips like a comrade.
Come, come sit here, come rest,
come listen how I serenade you—
I love you. 


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

23.6.13

só mooi

jy is vir my baie mooi
mooi soos geboorte
soos die geboorte
van slymvars verimpelde mensies
wat soos paddavissies hul naelstringe
soos stertjies afgooi—nat agter hulle voetoortjies
en nat onder hul oorvoetjies—vreeslik
mooi is jy soos die dood van 'n verimpelde
oumensie wat 'n vol lewe vol verdrukkende
hartseer en slymvarsgeluk—bietjies-bietjies
gewis soos brood en water—gehad het
en met 'n diep sug      die gees gee      en rus—
só, so mooi is jy vir my.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.6.13

Storm

hoog,
hoog bo die werwels
van kruin en van krans
stamp hulle kop:
die bulkende takbokke—roetgrys
en op hitte; hulle muskus stoom
in ons neusholtes, kondenseer
op ons hygende tonge, drup
met ons kaal lywe af soos sweet,
soos seks—ploeg met hulle silwer
horings en hulle drygende hoewe
klonte roes grond uit die aarde op;
hulle duik soos branders en die hemel
hou sekondes lank haar asem op—
en dan, die botsing:
die wollerige ramme, asof oorlogskepe,
pletter teen mekaar.      alles.      skud.
die ganse aarde bewe.      hulle pronkende
lywe sidder en vanaf elke regop haar drup
'n stinksoet druppel—skrikwekkend
besield soos testosteroon, spermatozoonverkwik
met lewensvonk—die vrugbare aarde drink,
en word dronk.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.6.13

Die pyn van liefde

'n Vryvertaling van 'n ou anonieme Kwakwaka'wakw gedig. 


Vuur stormloop deur my lyf met die pyn wat dit is om jou lief te hê;
pyn stormloop deur my lyf met die vuur van my liefde vir jou;
siekte loop sirkels in my lyf met my liefde vir jou;
pyn soos 'n blaas wat wil oopbars met my liefde vir jou—

Ek onthou steeds wat jy vir my gesê het.
Ek dink aan jou liefde vir my.
Ek word verskeur deur jou liefde vir my.

Waar gaan jy heen my geliefde?
Ek hoor jy gaan weg hiervandaan.
Ek hoor jy gaan my hier agter laat.

My lyf is verlam van verdriet.
Onthou wat ek vir jou gesê het, my lief.
Tot weersiens, my lief, totsiens—


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

26.5.13

weersiens

jy draai jou rug op my soos die verlede
en ek, ek gooi my arms om jou bene

          ne me quitte pas, ne me quitte pas
                    ne me quitte pas, ne me quitte pas!

in jou koffer weg gepak, lê die offer
van my hart en die storieboek
wat vertel van die versoeking en die val
van die sondebok en die beloofde land
van slegvroue en van slegter mans
van verraaiers, van 'n tweede kans


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.3.13

Harteloos


Dit is wel bekend onder liefdeskenners
dat die kennis van liefde die broeikas
van die hart vereis; die wetenskap
van die liefde, soos die navorsers weet,
vereis die laboratorium van die hart;
dis in die akademie van die hart
waar die filosowe die liefde bepeins;
almal weet dit tog, almal is dit eens!

Hoe kan ek dan van die liefde leer,
noudat jy my hart gesteel het?



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.3.13

Lentetyd


Liefling, dis lentetyd:
laat my aan jou lentebloeisels ruik,
aan jou blommeknoppies knibbel;
kom, nou is immers die geleentyd
om in pas met die seisoen te wees,
laat ons soen, versoen en gelukkig wees!




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Drukkies & Soentjies

sê die pedofiel:
ek't hom 'n guns gedoen
ek't haar bederf
ek't hom op sy tottie gesoen
ek't haar bekkie geverf

sê die grootmenskind:
hy't my opgeneuk
sy lus oor my getrok
my met sy mes gesteuk
my lewe opgefok



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence