30.4.12

'n Digter se hart

Ek is onlangs weer herinner dat ek 'n digter is
en dat my digtershart, soos elke digter se hart, 'n slet is.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.4.12

Onder 'n donkermaan

Vanaand gaan ek my velwissel
onder 'n donkermaan—

           'n hemafroditiese ek gaan dan,
           voor die dagbreek oopbreek,
           uit my kokon uit wikkel
           en die lewe se soet en sout,
           se warm en koud opvreet
           die nuwe ek
           maak nie onderskeid nie.

           More, wanneer hý voor my staan,
           of sý voor my staan, gaan ek
           nie diskrimineer nie. Aan welke tepel
           my gebied word gaan ek soog.

           My metamorfose laat my honger
           vir elke hart, alle niere, alle spiere;
           ek verorber als: manharde been
           en vrousagte murg, sening en gewrig.

—Vanaand, onder die donkermaan,
gaan ek my vel reptielies afskud,
my nuwe lyf uitstrek, versigtig inlyf,
en, slaggereed, my eerste prooi inwag.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.4.12

Blommekenner

jou
pubis
is
'n pienk
krisant

Pink Chrysanthemum by Ric Hampton


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

12.4.12

Die see

Die see is 'n oog vandag
Dit is oop en groot en stip
Dit gluur oor die hemelruim
Aandagtig vir 'n ruk
Dan draai dit om, kyk vir my
- fluister in my oor
“Die lewe is soms goed;
die lewe is soms goor!”

Die see is my vrou vandag
Rond en opgeswel
Gereed vir geboorte gee
“Aan die hemel of die hel!”

Die see is my man vandag
Sterk in buik en nek
“Vir jou kan ek lief hê;
vir jou maak ek vrek!”
Hy streel my oor my skouer
Hy vuis my deur die bek.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.4.12

soos in iets Italiaans

2005/2006

Kom ons belê in mekaar vanaand
soos in iets Italiaans.
Proe lank aanmekaar se al dante,
ruik elke gekruide kruinkie,
spreek dan ons waardeuring uit –
máma miiiaaa! met oordrewe lyftaal
emosioneel        luidrigtig,
volkeel       vollyf.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

8.4.12

Bipolêr

2005/2006


My bipolêre pel –
soms ’n septer
soms ’n lel.

My bipolêre siel –
soms ’n god
soms ’n piel.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.4.12

inmekaarin

ewig lê ons inmekaar:

ek skiet penwortel in jou klam rooigrond
en groei 'n boom
ons kapilêre hare velcro
pens teen pens gesoom
hartklop teen hartklop
monde in 'n ewige lis gekus
asem ek in wat jy uitasem
asem jy uit wat ek inasem
een ego eggo

:ewig lê ons mekaarin


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

24.3.12

Blootgestel

Hoe is dit dat
jy naak voor my staan,
maar ek kaal voor jou?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.3.12

Sommer maar net troos woorde van 'n pa aan sy dogter

Die vers kort eintlik nog baie werk, maar ek is nie lus nie, so hier is dit dan nou: sommer maar net. 


Hartskind, vertrou nie jou onderbewuste nie—

Hy's 'n liegbek!
Hy koggel jou met valshede:

Kloek dat jy kuikennietig is
sonder 'n vlerk vir skuiling;
kwaak dat jy onaanskoulik is,
(wat weet iets wat nie aanskou kan word nie van sulke dinge?);
Poets dat jy 'n pennie tussen ponde is,
(Dis omdat hy net pennies aangebied word, dat hy sulke snert kwyt raak).

Nee, my meisiekind—

Jy's 'n Vuurvalk,
nie 'n hoender nie;
'n Swaan,
nie 'n eend nie,
'n Krugerpond,
nie 'n sent nie.

Jou toekoms hou hemelse katedrale in vir vlieg;
berge staan in rye om jou hul skuiling aan te bied;
mere lê tjoepstil en hou hul asems op,
om nie jou asemrowende weerkaatsing leed aan te doen nie;
skatkisse slaan vuis vir die eer om só goue munt te huisves.

Nee, my prinseskind—

Luister nie na daai slegoom onderbewuste nie:
Hy's 'n vuilbek,
liegbek,
en as ek hom in die hande kry
gaan ek hom bliksem.
Niemand praat so van my mooikind nie!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.3.12

Wat is gras?

'n Vryvertaling van 'n gedeelte van Deel 6 uit "Song of Myself" deur Walt Whitman.


'n Kind het gevra, “Wat is gras?”, en bring vir my handevol . . .
Hoe kan ek die kind antwoord? Ek weet net so min soos hy wat dit is.

Dis dalk die vlag van my gesindheid, uit hopevol groengoed geweef.

Of dalk is dit die Here se sakdoek:
'n geurige geskenk en aandenking aspris laat val
met die Eienaar se naam êrens op die hoeke, sodat ons dit mag sien,
en opmerk, en sê Wiesin?

Of dalk is die grasself 'n kind, 'n baba deur die planteryk geproduseer.

Of dalk is dit 'n eenvormige hiëroglif, met dié betekenis:
oralsom is wye areas en dun areas eenders uitgespruit,
tussens swartmense en tussen witmense groei dit,
Zoeloe, Xhoza, Tswana, Kleurling, Boer, ek gee aan elkeen dieselfde,
ek ontvang elkeen dieselfde.

Maar nou lyk dit vir my soos die pragtige ongesnyde hare van grafte.
Ek sal jou—krulgras—met teerheid behandel.

Dit mag wees dat jy uit die borste van jongmans sweet,
en dit mag wees dat as ek hulle geken het, sou ek hulle lief gehad het;
dit mag wees dat jy van oumense afkomstig is, óf van nageslagte—vroeg
uit hul moederskoot geneem,
en hier is jy nou—moeders se skote.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence