22.6.12

Modderkoekies

2006

Eendag wanneer ons oud is
moet ons modderkoekies bak.
Ons skibberige hande sal weer
glibberig wees soos platannas.
Ons gekerfde gesigte sal weer
blos soos kleigeverfde inboorlinge.
Ons grasgryskoppe sal weereens
vrugbare aardes wees,
kleurig vol van kattekwaad
– nee – gemmerkattekalmte.

En as die agterdagson ons speletjies speen
sal ons nie ween nie, maar laaste lag –
’n Oumens is net eenmaal kind,
dóg was dit ons tweekeer goedgesind.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Plaas

2006

die land het bros geword
soos ou broodkors gemuf
lê nou oop     rou     skurf
soos 'n ou boervrou verwurg



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.6.12

soos lou heuning drup jy jou lang lyf
            oor my, giet jy jouself in warm sûe
                                         oor my lyne en my brûe



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.6.12

Belydenis

August 2006

Ek dans met haar. Vat haar styf
om die lyf. Speen aan haar peul-
bors. Hawe haar kors tortuur tong
in my mond. Stort my ongebore
half-kinders in haar kreng brakbuik.
Miopies beskou ek haar vigs
minnenswaardig. Noktambulis
eienaardig is my sinlike wellus
vir haar. Sonde is my houvrou.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.6.12

Die weefster se geliefde


"Die weefster" (met haspel en spil)
deur William-Adolphe Bouguereau,
olie op doek, 1873.


Op haar haspel is my veselagtige hart geplant—
'n ontliggaamde kop op 'n spies:

Sy spin en spin en spin en tol my are skroefdraad
op haar spil tot niks behalwe 'n koper katrol
vol geroeste gare van my hart oorbly nie.

Met weefraam stram gereed weef sy
karmosyn kettingdraad en     sy weef
skarlaken inslagdraad en       weef sy
totdat niks van my oorbly nie,
want sy het my opgeweef en deurgeweef
en ingeweef en weggeweef en klaargeweef—
'n tapisserie vol bloederige patrone:

kýk, dis ek, die weefster se geliefde!



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.5.12

ek sien 'n god (maar dit was jy)

'n Vry vertaling uit die slottoneel van “Philaster” (reëls 189-202) deur Beaumont & Fletcher (c. 1610). Aan die woord is Bellario/Eufrasia aan die edelman Philaster:

Terwyl ek in my vensterbank gesit het,
my gedagtes op die grasperk afgedruk,
dog ek ek sien 'n god (maar dit was jy)
wat ons poorte binnekom:

My bloed vlieg weg—vlieg terug,
asof ek dit uitgeblaas en terug gesuig het soos asem;
haastig is ek geroep
tot vermakingsberoep vir jou.

Nooit is 'n mens vanaf 'n herderstok tot 'n septer,
so hoog in denke opgehef as ek nie.

Jy laat 'n soen
 op hierdie lippe
(wat ek verewig jou wou weerhou het);
ek hoor jou praat,
dis vêr bo sang.

Toe jy weg is ontmoet
ek my hart vir die eerste maal,
en loots 'n ondersoek
wat dit só maak klop:

Gewis, ek het gevind,
dis liefde!



Source Text:
...till sitting in my window,
Printing my thoughts in Lawne, I saw a God
I thought (but it was you) enter our Gates,
My bloud flew out, and back again as fast
As I had puft it forth, and suck't it in
Like breath, then was I call'd away in hast
To entertain you. Never was a man
Heav'd from a Sheep-coat to a Scepter rais'd
So high in thoughts as I, you left a kiss
Upon these lips then, which I mean to keep
From you for ever, I did hear you talk
Far above singing; after you were gone,
I grew acquainted with my heart, and search'd
What stir'd it so, Alas I found it love...
                

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.5.12

ek het hard probeer om my hart te keer
om jou se reuk te ruik
maar ek het gefaal om my doel te haal
om my hart se neus te fnuik

ek het lank gestoei om my hart te boei
om hom gehok te hou
maar hy't los gekom, uit gekom
en is nou klop-aan-klop deel van jou


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

25.5.12

Dors


kyk hoe horingdor is dit, hoe brosdroog,
sien hoe dit skilfer, hoe staan die stof
met elke tromslag, krummel dit met aantas,
hoe poeier die roes, hoor hoe kraak die skaniere,
verwelk tot stok, verkrimp tot klont,
verneder tot kurk en grond

o hoe dors my hart na die lafenis
wat jou liefde is!



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.5.12

op daardie dag

?op daardie dag wat kom:
wanneer ek my laaste gaap en sug sal gee,
en die lewensborrel wat reeds sedert geboorte
sy rit diep in my siel se oseaan begin het,
díe dag deur die oppervlakte breuk
en met 'n sagte prik die laaste onsie animasie
soos 'n baba-nies die niet in priem;
gaan jy daarwees om my brosbroodlippe
een laaste maal te groet, my gelynde koue voorkop
en yl graswit hare een laaste maal
met jou welbekende, welgeliefde hande
plat te vee, my ewigkykende oë
toe te vee, en my stokkerige hande
vas te hou totdat die lou koud is,
gaan jy daar wees
:op daardie dag wat kom?


 ... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

12.5.12

Vlinders

die son val in vlinders
deur die venster
pragtige, lastige
vlinders wat op my wimpers
land—maar, liefling, ek weier
om op te staan—laat hulle kom,
hordes en hordes lappers
kan maar kom:
vandag is ek jou vlinder
en jy my blom

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence