10.11.11

'n Selfversekerde man en 'n tingerige seun

Alternatiewe titel: 'n Liefdesgedig aan myself

In die verlede was ek verlief
op ’n selfversekerde man uit die toekoms
wat soms, op wintersaande,
sy duvet vir my oop gegooi het,
dat ons aksieflieks kon kyk
vol gewere en ontploffings.

In die hede is ek verlief
op ’n tingerige seun uit die verlede
wat soms, op koue wintersaande,
langs my in my bed kom lê
en vir my ware stories sê:
vol trane en opofferings.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.11.11

My ribbekas

’n biddende vuis,
’n gebeende kou,
wat ’n rou kanarie binne hou.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.11.11

Naartjie / Clementine

Beminde,

Jou hande is gespesery met die naartjies
wat jy vanmiddag vir my afgeskil het—versigtig
om nie die klein warm fetusse te kneus nie.

Jy’t jare se oefening daarin,
want só het jy ook mý hart ontgin:
die kliphart vernuftig afgedop

tot jy uiteindelik my vleeshart—versigtig
soos ’n pasgebore bebloede baba—
in jou palms, nes ’n naartjie, genes het.


Beloved,

Your hands are spiced with the clementines
you peeled for me this afternoon—carefully
so not to bruise the warm little fetuses.

After all, you have years of practice,
for that’s how you broke open my heart:
skilfully skinned the heart of stone

until you delivered my heart of flesh—carefully
incubated the blood covered newborn
like a clementine in your palms.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.10.11

Eendag as ek groot is

Eendag as ek groot is
gaan ek 'n groot man wees
met sulke growwe baard en groot spiere wat blink
en sulke kwaai stem soos 'n waghond wat WOEF-WOEF!
en dik vingers op my groot-oom hande
SO groot nes my hele gesig, so groot,
en ek gaan steeeerk wees,
die sterkerste man ooit!

Maar nou is ek nog 'n kind—
Pa sê ek's 'n sissie.

Eendag gaan ek groter as Pa wees
en dan, as ek soooo groot is,
gaan ek nie met hom speel nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.10.11

Optelkat

Jy maak 'n optelkat van my—
maar dis okay:

ek sal—vir nou—jou toelaat
om van my te hou;
soms my op jou skoot te lê,
en lief te hê.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.10.11

'n Opinie omtrent bygestaande selfmoord

Ek nes my lewe in klam rooigrond:

'n pêreltjie—oënskynlyk leweloos—skiet
skielik 'n harige stertjie suidwaarts,
'n kordadige nekkie priem noorde toe;
die gevuisde lentegroen koppie
vou oop soos twee palmpies na gebed
of voor applous en glimlag vlinderlik.

Natuurlik, figuurlikgesproke het ek my lewe
so geplant en met die selfde aanmatigheid
wil ek, wanneer die tyd ryp is,
die pêreltjie weer oes—sagkuns ontwortel,
die lewensare se konneksie met die klam
rooigrond kortknip, die vlinder laat verwelk
en die korreltjie wat aan my geleen is teruggee.

Want, toe ek ontkiem het,
was dit 'n deftige—en toweragtige—affêre
en daarom wil ek ook op 'n betaamlike
manier sterf—sans towerkuns natuurlik—.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.10.11

'n Gekke liefdesliedjie

Ek spring op my bed, dans in die straat;
Ek soen my dronk oom op sy baard;
Dis gek ja,
maar ek’s verlief!

Ek koop ‘n goue ring, ‘n reuse diamant;
Ek hardloop kaalgat op die strand;
Dis gek ja,
maar ek’s verlief!

Ek sie'jou glimlag op my selfoon;
is dit alles net 'n mal droom?
Dis gek ja, maar ek’s verlief! Verlief!
Ek's gek ja,
maar ek's verlief!



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.10.11

Retoriek

Wie anders se hande pas
soos myne in jou lyf ingelas?
Wie anders se lippe klou
só presies jou mond se vou?
Wie, behalwe ek, het die knack,
ken die lekplek, van jou opwek?
Wie se riem stut jou hart
as dit nie myne is nie?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.10.11

Heuning

’n Korf is jou dye
en ek is die bye
wat bedrywig jou heuning
bewerk en bemin.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.10.11

Nag

'n Vryvertaling uit Koreaans van 'n gedig deur Jeong Gabsook.


Iemand
vou die nag oop soos 'n tafel—

(Slegs in 'n kop
word die ligte in knus maande aangeskakel.)

—wêreldwyd word tafels gedek met slaap.


밤 – 정갑숙
누군가
어듬 이블 한 채를 펼친다
머리말엔
아늑한 달 조명등 켜고
세상은 한이블을 덮고 잠잔다.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence