22.5.12

op daardie dag

?op daardie dag wat kom:
wanneer ek my laaste gaap en sug sal gee,
en die lewensborrel wat reeds sedert geboorte
sy rit diep in my siel se oseaan begin het,
díe dag deur die oppervlakte breuk
en met 'n sagte prik die laaste onsie animasie
soos 'n baba-nies die niet in priem;
gaan jy daarwees om my brosbroodlippe
een laaste maal te groet, my gelynde koue voorkop
en yl graswit hare een laaste maal
met jou welbekende, welgeliefde hande
plat te vee, my ewigkykende oë
toe te vee, en my stokkerige hande
vas te hou totdat die lou koud is,
gaan jy daar wees
:op daardie dag wat kom?


 ... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

12.5.12

Vlinders

die son val in vlinders
deur die venster
pragtige, lastige
vlinders wat op my wimpers
land—maar, liefling, ek weier
om op te staan—laat hulle kom,
hordes en hordes lappers
kan maar kom:
vandag is ek jou vlinder
en jy my blom

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.5.12

Wintersbode


vannag, sag soos die dood, het sy op ons toegesak.
nie met wraak nie [wraak is so harde woord].
haar dons spooklig en lykklam weggesak ons hole in,
maar met [durf ek dit sê?] teerheid. asof sy treur
oor die verwoesting wat sy bring – steeds sag gebêre
onder haar moederlike ouvrouvlerke.

dis tussen die geluide,
        daardie normale geluide
        van mense en krieke en karre en honde,
dat jy haar neurie hoor – doodstil soos ’n soen,
weggesak ons holtes in. asof sy jammer is
oor die verwoesting wat sy bring – versigtig
toegevou.
             vannag.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.5.12

só

bekyk die losvoet, stywerug, grootkop peuter:
só, met sulke losbandige tree, tree 'n mens
mos die lewe met vooroor momentum binne

soos 'n duiker wat oorgee aan swaartekrag
soos 'n tiener wat oorgee aan wellus
soos 'n afgeleefde wat oorgee aan die dood

só, dis hoe 'n mens moet leef met die oorgawe
wat die lewe verdien, sonder om weg te skrum
vir die onvermeidelike skrotumpyn daarin—


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence


Image Source

30.4.12

'n Digter se hart

Ek is onlangs weer herinner dat ek 'n digter is
en dat my digtershart, soos elke digter se hart, 'n slet is.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.4.12

Onder 'n donkermaan

Vanaand gaan ek my velwissel
onder 'n donkermaan—

           'n hemafroditiese ek gaan dan,
           voor die dagbreek oopbreek,
           uit my kokon uit wikkel
           en die lewe se soet en sout,
           se warm en koud opvreet
           die nuwe ek
           maak nie onderskeid nie.

           More, wanneer hý voor my staan,
           of sý voor my staan, gaan ek
           nie diskrimineer nie. Aan welke tepel
           my gebied word gaan ek soog.

           My metamorfose laat my honger
           vir elke hart, alle niere, alle spiere;
           ek verorber als: manharde been
           en vrousagte murg, sening en gewrig.

—Vanaand, onder die donkermaan,
gaan ek my vel reptielies afskud,
my nuwe lyf uitstrek, versigtig inlyf,
en, slaggereed, my eerste prooi inwag.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.4.12

Blommekenner

jou
pubis
is
'n pienk
krisant

Pink Chrysanthemum by Ric Hampton


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

12.4.12

Die see

Die see is 'n oog vandag
Dit is oop en groot en stip
Dit gluur oor die hemelruim
Aandagtig vir 'n ruk
Dan draai dit om, kyk vir my
- fluister in my oor
“Die lewe is soms goed;
die lewe is soms goor!”

Die see is my vrou vandag
Rond en opgeswel
Gereed vir geboorte gee
“Aan die hemel of die hel!”

Die see is my man vandag
Sterk in buik en nek
“Vir jou kan ek lief hê;
vir jou maak ek vrek!”
Hy streel my oor my skouer
Hy vuis my deur die bek.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.4.12

soos in iets Italiaans

2005/2006

Kom ons belê in mekaar vanaand
soos in iets Italiaans.
Proe lank aanmekaar se al dante,
ruik elke gekruide kruinkie,
spreek dan ons waardeuring uit –
máma miiiaaa! met oordrewe lyftaal
emosioneel        luidrigtig,
volkeel       vollyf.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

8.4.12

Bipolêr

2005/2006


My bipolêre pel –
soms ’n septer
soms ’n lel.

My bipolêre siel –
soms ’n god
soms ’n piel.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence