9.5.11

Middernagtelike verlange

Dis sewe minute voor twee in die oggend.
My oë is herfsblare en my gedagtes lewe
binne-in gedagtes.      Dis in hierdie seisoen
dat ek terug dink aan toe ons nog saam was.
As ek terugskou is jou oë bronstige mossies
wat opgewonde harlaboerla in bevlamde voëlvry
oggende.      Jou mond is ’n heliograverende son.
Op jou tong broei lou neseiers waaruit
die mooiste malmokkies kom.      Rondom
twee uur blom jy opnuut soos krismisrose
in my bebloosde verbeelding op.      Harteliefie,
my basterappelliefie, dis middernagtelike ure
hierdie.       Los jou goëlery met my.       Môre
as die mossies se kletsery my wakker het
gaan ek terug dink aan nou,
en sien hoe die nag anders in die daglig is.
Laat my rus, laat my dit toe,
omdat die verlede in die hede anders is.
Gaan terug, gaan slaap.
Gaan terug na heinde
en verte toe.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.5.11

A Love Proposal

if I could
harvest my heart like a peach
from my breast could pluck it
could steal it from its cage
could bind the aorta like an umbilical cord
could wash it and wrap it in linen
could strengthen it with colostrums against the cold
and nestle it softly in a cradle
decorated with a big bow—big like a hand;

if I could
lay it at your door
could give it to you like a ring on your finger
or like the breath of life kissed into Adam
or like spring—curled up in the palm of God’s hand
as a baby porcupine;

and if you could
accept it, could breathe it in,
could assimilate it like sweet peaches, be accomplice
to such grand a prison break, could give your breast
for colostrums and love, could share your chest
with an extra heart—passionate to pump your blood;

if I could
and if you would,
my heart is yours.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.5.11

Dis die eerlike liefde

Soms in die kurwe onder jou bors voel ek kompleet,
- My liefde vir jou is oppervlakkig,
en as ek nes maak in die holte van jou keel voel ek volledig,
- maar my liefde vir jou is opreg,
en in die kuiltjie van jou stuitjie is ek gelukkig,
- dis soos vir katte en laventel en atleetlywe.
en as ek lepel om jou tepel lê, voel ek volmaak.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.4.11

Gekneusde appelkose

Haar hare ruik na appelkose. Soet, vars appelkose. Ek lê met my gesig in haar hare; ek omhels haar van agter. Haar lieflike heupe kruin in my buik asof ek ’n moeder en sy my ongebore kind is en so wil ek verewig lê. Haar asemhaling is rustig nes ’n laaggety. Slaap sy altyd so rustig? Dis oggend maar ek durf nie roer nie. Netnou word sy wakker, staan sy op, begin die dag, die res van die lewe, en het hierdie oomblik aanbeweeg. Aanbeweeg soos gisteraand toe ek haar gekneusde appelkose met al vyf sintuie geproe het.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.4.11

Boervrou

my vrou is 'n boervrou
my boervrou spit in die tuin
sy spit die aarde in klowe oop
groot vrugbare oopwondklowe
met haar groot ysterspit

soos Agdistis is my vrou
my boervrou bevrug Moeder Aarde
kloof haar oop en stort haar saad daarin
my vrou is 'n vrugbaarheidsgodin


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.4.11

Perskes

Op persketakke lê soos watte die voorvrugte.
Só, op my hart blom my liefde – onverdun.

My beminde, hou nie jou rooi hart gegrendel nie:
die hart is ’n papie wat eens nog moet vlerke kry,
wat oop moet maak soos biddende hande na gebed,
soos ’n lotus voor die son, soos twee pare lippe
vir mekaar, soos bene vir bekende heupe,
soos vriende se kaalpersoonlikhede.

Want in die laat winter bot die perskes
en deur die koue groei die liefde soos tienerborste.

My beminde, hou nie jou soet mond toe nie:
laat my tong soos ’n vinger jou snare stram,
jou perkussie plekke kielie, jou diep liefdesgrotte
maak eggo soos roepende katedraalklokke,
wat luidkeels ween oor die hoog gestookte liefde
en jou brandstapel waarop ek hartstogtelik verteer.

Hoogsomer dra die perskebome swaar aan vrugte
en loop die harte oor van bloed en liefde.

My beminde, vergeet nie die ou verhale nie:
van Adam (óf Romeo) wat deel aan die giftige perskes
en deel aan die lot, want die liefde se drif vrees nie
die dood nie, dit loop doelgerig die duisternis in –
braaf soos Christus, wánt, my beminde,
die slot van die dood bind nie die liefde nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

24.4.11

Liefde: groenlewe

'n Vryvertaling uit Koreaans van 'n gedig deur Kim So-yeop

O, die liefde:
liggroen trane.

Winters wind;
uitgerekte stilte;
'n grot;
dan skielik 'n ontploffing—
lewe ontkiem!

In 'n bors eens begrawe,
'n straaltjie liefde—
Nou, 'n vuur!

Kortvoorlank bloei
daar orals klam bloeisels—
hulle vul die hele wêreld met
gulle liefdesliedere!

O, die liefde:
'n sagte liefdesasem
wat uit 'n brose boesem ontkiem
tot 'n besonderse
groen lewe!

사랑은 초록빛 생명 -- 김소엽

생명은 빛으로 오네
사랑은 연초록
눈물로 오내.

겨울 바람
침묵의 기나 긴 동굴
오랜 기다림 끝에
참고 참아 터뜨린
생명의 발아(潑芽).

가슴에 묻어 둔
한 줄기 사랑
이제 불이 되었네.

새 순 돋듯
물기가 돌고
처음으로 내다본
세상 가득 환희의 아가(雅歌).

사랑은
보드라운 연록의 숨결
여리고 순한 가슴에서
아, 찬란한
초록빛 생명이여



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.4.11

Ek wens ek kon:

  • jou kadawer opgrawe en die pulwer
    afstof soos ’n ornament uit ’n kis
  • alchemis speel; êrens die elixir steel
    en jou verdorde bloed daarmee kwik
  • jou vleis uitbou met klei en jou vel
    met sag gespinde sy span
  • bolletjies see in my hand rol totdat dit jel
    en dit versigtig in jou oogholtes rol
  • sewe kraaie se blinkste vere pluk;
    jou mooie hare terug rangskik
  • ’n skulp se suis en ’n altviool se kwê
    saam fynmaak en in jou keel inlê
  • asem jou droeë-koraal longe in soen
    tot jy eens pienk in die wange bloem
  • sonder aankondiging jou by die hand gryp,
    strand toe hardloop en kaalvoet trou
    [maar ek kan nie,
    en dis nie lekker nie]
 

.... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.4.11

Koning

Jy bars oop soos ’n granaat
jou robyne is blink en ryp
jy laat my proe aan duursaamheid.

My hart verruk, my oog vergryp
my pik sluk een-vir-een edelsteen
ek verbeel my ek’s gekroon:

robyne om my staf
heuning in my keel
’n koningin wie by my woon.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

19.4.11

voor die tv

Ons sit-lê knopperig en beknop
voor ’n saamswerende televisie
en suig mekaar se asems op.
Op jou bors stetoskoop my kop –
jou binneste skommel van lewe
soos die see, vroeg in die oggend,
wanneer sy nog gril voor die son.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence