22.2.15

Wasem

Nadat die verliefdgeid
soos dwelmgoed uitgewerk is,
en net ek—die gewone ek
met sproete en moesies,
'n magie en dubbelken,
bril en oggendasem—oorbly,
nadat die verliefdheidswasem
opgeklaar het voor die waarheidson,
en jy my—die regte ek—sien
met nugteroë, gaan jy dan,
my beminde, my steeds só bemin,
soos nóú, asof ek perfek is?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.2.15

Alleenheid is ’n koue plek

Ek knip my oë en jy is weg
en sedertdien is niks meer reg nie;
niks wat ek sien het fokus nie;
geen woord is my mond se kneg nie.

Verwilderd soek ek heinde
en verward roep ek verre,
maar jy antwoord nie,
en my benoude siel het geen rus nie.

Die berge bulder,
maar bied g’n hulp nie;
my gille is uitasem en eggo
klankloos teen die kranse.

My beangste gedagtes is ganse in vlug;
my ganse gedagtes vlug na die somerplek
waarheen jy (bid ek) getrek het.
Ek bibber. Alleenheid is ’n koue plek.

Kyk, ek stuur vir jou ’n swerm vere:
pluk ’n pen my geveerde geliefde
en skryf vir my ’n gedig op ’n poskaart
met jou portret daarop geverf,

sodat ek my nagdrome ’n idee kan gee
waaroor om te dagdroom.
Ek trek ons herinneringe oor my
soos ’n blou trui.

Ek het my oë geknip en toe’s jy weg
en sedertdien is niks meer reg nie.
Ek draai my bewende blou rug,
en wens jou met elke rotasie t'rug.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.2.15

Erfsonde

Sy stap in purper
(wat `n pretensieuse woord: “purper”
wat met niks relevant wil rym nie—
usurper? opsweper?)
met die korridor tussen die Gautrein
en Oliver Thambo af; die oosterse rok
klou kalander-koggelmander aan haar.

Al my mansjagse sintuie skerp skielik op
met haar verbystap en deur die venster
spring my verbeelding luiperd en ruik
my snoet jasmyn en sweet en proe my bek
kaneel en bloed.

Vir `n oomblik         kortstondig en fragiel
soos die stuiptrek van `n vinger aan `n sneller,
soos die ontspan van vingers om `n boogsnaar,
soos die sug ná semen- en bloedvergieting
beken ek haar as buit,
herken ek deur die ruit ‘ek’:

Nimrod—

die oertipe jagter, verkragter, land- en vrouerower;
die seun van Gam, die seun van Noag,
die seun van Adam—die Usurper,
aangenome seun van die Opsweper.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.1.15

Kretaanse krygers

Op Kreta stamp die hitte
hulle kaal lywe bullerig
—sout en semen puls bloederig
uit hul wonde uit, rol stywe spiere langs,
drup van gespanne kurwes af—
soos die Cycladese pols hulle:
van binne tot buite,
van koppe tot kuite.

Selfs die grootte Zeus, óók hier gebore,
het skone Europa in Kreta se buitelug
met sy geëlektrifiseerde saad bevrug.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.12.14

'n Gejaag na wind

Wie, hier, kan vir my sê:
waar die westewind haar kop neerlê,
waar die oostewind haar skuilingvind,
waarheen my mooi liefling gegaan het,
waarom sy my agter gelaat het?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Stilstuipe

asseblief, sê tog iets.
sê iets voor die son opkom.
voor al die gespikkelde kwarteleiers
wat ons deur die nag gelê het, uitbroei.
sê iets voor die uitgebroeide kuikens
op ons kliphart-altaars as sondeoffers uitbloei,
voor een of ander demoon of dreksel die offermaal
bywoon, voor magte ons lot verseël met bloed en spoeg
en groot donker woorde, voor dolosse rol en ons derms
in kringe op die karos lê, vóór die bliksems bulder
met sonsopkoms—sê tog asseblief net iets,
sodat ons kan soen en die hemel te hulp kan roep!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.10.14

Seisoenale verdenking / Seasonal Suspicion

Seisoenale verdenking

Hy weet dit is herfs
want die ginkgo biloba
sidder geel—soos verdriet;

en hy weet dit is herfs
want die esdoornboom
skud bloed van haar hande af.

Dit is herfs, en hy weet dit,
want sy binnegoed is bruinblare
en hy staar voëlverskrik na sy verlede.

Dit is herfs. Ongetwyfeld is dit herfs.
Want alles sterf tog so verskriklik mooi
nes die noodlotige son in brons en in rooi.


Seasonal Suspicion

He knows it is fall
for the ginko biloba
trembles yellow—like grief;

and he knows it is fall
for the maple shakes blood
from her limbs.

It is fall, and he knows it,
for his insides are brown leafs
and he stares like a scarecrow at his past.

It is fall. Undeniably fall.
Because everything dies so awfully beautiful
like the fated sun in scarlet and in bronze.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.10.14

Raison d’etre

Ek belê—glo dit of nie—in die digkuns:
maak kiste vol woorde bymekaar en kaste vol beelde
en kluise vol metafore en ryg op hangers honderde—
nee duisende—rympare en in houers prop ek klingelde klinkers
vir binnerym okkasies en ek maak plakboeke vol intertekstuele assosiasies
en emosies word versigtig volgens kwaliteit (pyn of plesier) 
en intensiteit (soensag of donnershard) 
en langdurigheid (oogwink flink of tot-die-dood-ons-skei)
gekategoriseer en ervarings word vernuftig alfabeties geïndekseer:

A vir aarbeie en room: onthou jy?
B vir borste en boude. Hoofsaaklik joune.
C vir cafés en cinq à sept, en so aan,
D tot Z.

My geliefde, pardon die cliché:
jy’s my vers se raison d’etre.

10.10.14

Platvloerstuis

Daar is ’n kraai, swartnat gereën van verdriet,
en ’n kat, ewe nat en miserabel gebad
in die sorge van môre, en ’n treurige hond
sonder baas, en ’n sielsverskrikte kaaslose muis—
almal ewe lewensmoeg en platvloerstuis in my hart.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.9.14

Soenseisoen

Soen my net—soen my nou;
soen my op die sagteplekkie, broos en beskermend
soos 'n nuwe moeder 'n splinternuwe kind
waaraan die nattigheid nog klou;
of soen my op my voorkop soos 'n trots patriarg
wat 'n agter-agterkleinkind inhuldig; of gee my 'n heilige kus
soos 'n skepper wat lewe sy skepsel se neus binne blaas;
of plant jou tong wellustig en profaan my praatput in,
maak dat ek my woordesluk en aan jou soen verstik;
byt my nek met vampieriese dors; suig soos 'n onvergenoegde vul
aan my harige bors; lek die testosteroon aan my pektoraal,
proe my feromoon in die bedompige koelte van my armholte
en volg met jou tong die golwe van my ribbekas,
die kruise van my buik, die mik wat na my pubis lei,
my fallus en my bas; knibbel agter my knieknoppe en kuite
en tussen my tone asof jy 'n kewer is; kruwel mondeliks
oor elke plek wat deel van ek is, sodat ek gelyktydig
orgasties gril en liries gil—soen my net,
want daar is min dinge wat so seldsaamsoet
soos 'n soen is, eens die seisoen aangebreek het.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence